Die reuse Ben Vorster hoërskool flank, Renzo Du Plessis, in aksie tydens verlede jaar se seisoen.

Die uithaler flank van die Hoërskool Ben Vorster se eerste rugbyspan, Renzo du Plessis, wie veral tydens verlede jaar se O/18 Cravenweek landswye opslae gemaak het met sy 103m wegholdrie vir die Limpopo Blou Bulle, is oppad na die Cell C Sharks.

Du Plessis het verlede Donderdag ‘n professionele rugby kontrak met die Cell C Sharks Rugby-unie onderteken. Bulletin het vroeër die week met du Plessis gesels oor hierdie opwindende rugbyloopbaan wat vir hom voorlê in Durban. Hy het ook vertel hoe hy onder die Covid-19 grendeltydperk hom by sy skoolwerk bepaal en wat hy doen om fiks te bly.

Renzo teken kontrak met die Cell C Sharks.

“Die Covid-19 was ‘n groot verrassing vir ons almal, en dit is jammer dat hierdie inperkings, veral vir ons matrikulante, van soveel geleenthede hierdie jaar ontneem aangesien dit ons laaste jaar op skool is. Om nou reeds ‘n kontrak te kon onderteken met die Cell C Sharks was vir my ‘n groter verrassing te midde van hierdie omstandighede wat almal hulle nou in bevind”, het du Plessis gesê.

Du Plessis het as kaptein van sy skool se eerstespan gesê dit is veral teleurstellend om nie Ben Vorster se VersekerBeker-kroon hierdie jaar te kon vededig nie. “Dit was ons droom en mikpunt om die VersekerBeker titel weer te kon lig. Nou is dit neusie verby en ons gaan moet vorentoe kyk. Ek het ook uitgesien om by vanjaar se O/18 Cravenweek te gaan speel, maar die toernooi is ook afgestel”, het ‘n teleurgestelde du Plessis gesê. Du Plessis het vertel dat hy meer tyd aan sy studies spandeer aangesien daar met die inperkingsreëls nie veel tyd vir sport is nie.

“Dit gaan baie goed met die skoolwerk. Die internetklasse help my baie en my doelwit is om so goed as moontlik te presteer deur goeie punte te verwerf. En ek werk regtig hard daaraan om my punte deurgaans te verbeter, daarom dat ek nou meer tyd spandeer op my skoowerk”, meen hy. So gepraat van studies, volgens du Plessis beplan hy om vir ‘n B.Com graad in Besigheidsbestuur te gaan studeer sodra hy volgende jaar by die Cell C Sharks aansluit.

“Ek en my pa, Renso, sal sodra dit moontlik is na Durban toe vlieg vir ‘n ontmoeting met die Sharks Rugby-unie. Deel van die ooreenkoms met die Haaie is date k moet studeer om in aanmerking te kom vir hierdie kontrak. Hierdie kontrak sluit ‘n studiebeurs van R20 000 in. Sodra ons met die Sharks vergader het, sal ons dan eers weet waar presies in Durban ek gaan studeer”, het du Plessis gesê.

Soos die plaaslike rugbygemeenskap die reusagtige flank al te goed leer ken het. Foto’s: Roelof de Jonge

Du Plessis sê hy het ook ondermeer aanbiedings van die Blou Bulle en Goue Leeus Rugby-unies ontvang, maar het gevind dat die Haaitenk uiteindelik vir hom die beste opsie sou wees.

“Ek is ook baie bekend met die kondisionering-afriger, Phiwe Nomlomo, by die Sharks. Nomlomo was juis verlede jaar by die Sharks aangestel as ‘n vaardigheids-afrigter. Hy was een van die afrigters van die SA-skole spanne verlede jaar waarvoor ek gespeel het. Die O/21-span van die Sharks is tans die huidige kampioene en is deurgaans een van die top O/21-spanne in Suid-Afrika. Daarom is dit een van die redes waarom ek besluit het om ‘n professionele rugbyloopbaan by die Sharks te begin”, het du Plessis gesê.

Du Plessis is nie net ‘n uithaler rugspeler nie, maar is ook ‘n uitblinker op die atletiekbaan. Hy het gesê dat hy ondermeer vir Limpopo as ‘n O/15-hekkies-atleet aan die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap deelgeneem het. Volgens du Plessis help atletiek baie om sy spoed op die rugbyveld te bevorder. Ten spyte van die grendeltydperk, het du Plessis vertel dat hy nog steeds hard werk om fiks te bly deur daagliks oefensessies so tussen die skoolwerk in te ruim.

Renzo Du Plessis speel flank vir die hoërskool Ben Vorster se Eerstetal. Foto’s: Roelof de Jonge.

“Dit is my droom om vir die Springbokke te speel, my grootste droom sal bewaarheid wees as ek moontlik vir my land in die 2023 IRB se Rugby Wêreldbeker kan speel” het du Plessis oor sy toekomsdrome gesê. Du Plessis het sy ouers, Renso en Elana, uitgesonder vir die manier waarop hulle hom deurgaans ondersteun en aangemoedig. “Ek wil vir my pa en ma baie dankie sê dat hulle altyd daar is langs die sportvelde om my te ondersteun, my ma wat altyd bereid is om my na oefeninge en wedstryde toe te neem. My pa veral was die dryfkrag agter my sukses.”

“Veral toe ek jonger was, dan het hy my geneem om rugby te oefen oor naweke. Ek was soms nie lus om te gaan oefen nie, want hoekom moet net ek oefen en my maats het vrye teuls. Vandag besef ek die waarde van al daardie opofferings, en dit was beslis die moeite werd”, het du Plessis gesê. “Maar dit was nie net op die sportveld waar my ouers ‘n invloed op my lewe gehad het nie. Ek is hulle innig dankbaar vir die wyse hoe hulle my groot gemaak het deur die regte waardes aan te leer. Ek dra ook al die eer van my suksesse aan my Skepper.”

“Aan my mede-matriekulante, ek weet dit is ‘n baie moeilike tyd waarin ons nou is, maar onthou, wat jy insit (harde werk) sal jy die vrugte van pluk. Byt vas, want dit gaan nie altyd so wees nie. Dis ons laaste jaar van skool, kom ons maak die beste daarvan en studeer hard”, was du Plessis as hoofseun van die Hoërskool Ben Vorster se boodskap aan dié skool se Graad 12 leerders.

>