Daleen Marx (29) van Tzaneen, het opp die 1ste Maart indie VSA geland. Sy sou op die passasierskip, Norwegian Pearl as 'n Kunsgenoot werksaam wees. Dit het egter nie gebeur nie.

“Sit jy gemaklik, want hierdie is ‘n verhaal wat jy moontlik nie gaan glo nie.” Dit is die woorde van die blonde meisie aan die anderkant van die slimfoonskerm so twee ure voor druktyd gistermiddag. Daleen is haar naam, Daleen Marx. Sy was die afgelope 89 dae in isolasie op drie skepe, twee vliegtuie en so ‘n paar hotelkamers in meer as ses lande.

Hierdie is haar storie.

Goeiemore Amerika

Op die 1ste Maart vanjaar het die 29-jarige blou-oog meisie uit Tzaneen haar tassies gepak en is sy oppad Detroit toe in die VSA om by die Park West Gallery-span as Kunsgenoot aan te sluit. Daar aangekom het sy by die res van die kandidate aangesluit en het hul week-lange opleiding afgeskop. Sy sou as kunsgenoot in die gallerye op luukse passasierskepe verbonde aan die Norwegian Cruises vloot, vir die volgende ses maande werksaam wees.

Na die weeklange opleiding en gepaardgaande gradeplegtigheid, het sy aanboord ‘n vlug na Cosumel in Mexiko vertrek vanwaar sy op haar aangewese skip, Norwegian Pearl, sou klim . Dit was Vrydag, die 13de Maart. “In die hawe het ek nou wragtig nie gedink dit sou die laaste keer in drie maande wees dat ek op vaste grond my voete sou neersit nie. In retrospek moes die datum dalk vir my ‘n aanduiding gewees het,” het sy grapperig genoem.

Daleen Marx (regs) klink ‘n glasie met haar goeie vriendin, Lize-Marie Jooste, in Detroit.

Op die skip het Daleen saam met die res van die bemanning vir diens aangemeld en is daar toe met hulle die nuus gedeel dat hulle nie meer werk het nie en dat die skip se beplande vaart onbepaald uitgestel is. Sy was presies ‘n minuut-lank in diens geneem en nou vas op ‘n skip in ‘n vreemde land sonder werk. “Wat nou?” het sy gewonder. “Wat moet ons nou maak? Ek het nie werk nie, ek sit op hierdie skip en al die passasiers word afgelaai en huistoe gestuur. Gaan ons nou maar hier op die see bly?”

Volgens haar is hulle aan die werk gesit om voorraad van al die kunswerke in die skip se gallery te neem en ‘n inventarislys saam te stel. Daarna moes al die kunswerke weggepak en geseël word. Die skip seil toe Miami toe, maar weens die Amerikaners se sentrum vir siektebeheer se verbod op enige skepe in enige hawens, het die Norwegian Pearl in die oopwater anker geslaan.

“Ons het ‘n hele paar dae so in die see gelê en toe is ons Jacksonville toe om voorraad aan te vul. Daar is ons weer nie toegelaat om in die hawe te dok nie en so dryf ons toe weer vir so maand-lank in die bekende St Johns Rivier op en af. Heeldag kyk ons net na vraghouers in die hawe. Dit was redelik sieldodend, maar gelukkig het ons bietjie vermaaklikheid in die vorm van die skeepsmusikante gehad. Die kroeg was ook darem oop. Ons mag net nie enige kaart- of bordspeletjies gespeel het nie want die bestuur het geglo ons sal mekaar met Covid-19 aansteek as ons aan dieselfde kaarte vat.”

Strepsils en kwarantyn

Op die 5de April word Daleen die oggend wakker met ‘n krap in haar keel. Dit was die begin van ‘n verkoue en sy haas haarself na die skip se mediese sentrum. “Ek wou net ‘n Strepsil of ‘n ding kry vir die krapperigheid in my keel… toe word ek vir 14 dae in kwarantyn alleen in ‘n binnekajuit sonder ‘n venster toegesluit. Dit was een van die mees depressiefste tye in my hele lewe. Daar was geen venster nie, en so kon ek net op die televisie sien of dit dag of nag was. Ek het heeltemal tyd verloor in daardie klein kajuit. Ek mag niemand gesien het of uit die kajuit gekom het nie.”

Daleen in kwarantyn op die Pearl

Intussen seil die skip van Jacksonville na Great Stirrup Cay toe. Die dag wat haar isolasie eindig word sy saam met die res van die Pearl se bemanning op tenderbootjies van hulle skip na ‘n ander skip, die Norwegian Escape, verskuif. Tydens hierdie verskuiwing is die Filippynse bemanning huistoe gevlieg op vlugte wat deur hul regering gereël is. Op die “nuwe” skip word daar vir die Suid-Afrikaners vertel dat hulle in twee groepe verdeel gaan word. Die een groep sou vir diegene wat Johannesburg toe sou vlieg wees, en die ander groep sou vir dié wat Kaapstad as hul tuiste gelys het, omsien.

Die groot verdeling

“Die rede vir hierdie verdeling was blykbaar oor die Suid-Afrikaanse regering besluit het dat daar geen plaaslike vlugte toegelaat sou word nie, en so as ons almal in Johannesburg geland het, sou die Kaapenaars nie kon huistoe gaan nie. Die Kaapenaars is toe op die Norwegian Escape gesit en ek is saam met die Jo’burgers na ‘n ander skip, Norwegian Break Away, geneem. Ons het toe ons trans-Atlantiese vaart na Marceille in Frankryk begin. Ek het behoorlik soos ‘n gevangene in een van die seerower movies gevoel. Soos daai Captain Phillips fliek.”

Die datum is die 29ste April en die bemanning aanboord die Break Away is opgewonde oor die vooruitsig om oor minder as ‘n week uit Europa uit terug huistoe te vlieg. Maar die opgewondenheid het nie lank gehou nie. “Die kaptein het ons laat weet dat ons weer moet stop om bemanning van ons skip af oor te plaas na een of ander skip toe wat ook nou die trans-Atlantiese vaart gaan aanpak, maar wat nie genoeg bemanning aanboord het nie. So dobber ons toe vir ‘n daglank en wag vir die ander skip. Uiteindelik laai ons toe so twee of drie bemanning van ons skip af oor na die ander toe en daar gaan ons weer die diepsee in oppad Europa toe. Die kaptein vertel ons dat die vaart met ‘n week verleng sou word want hy het opdrag ontvang dat hy nie vinniger as vyf seemyl per uur mag vaar nie.”

Europa uiteindelik

Halfpad Europa toe word dit afgekondig dat die skip nie meer Marceille toe gaan vaar nie, maar gaan nou in Barcelona oorstop. “Die kaptein het gesê dat daar nie plek vir ons was in Marceille nie oor die skip vroeër as aanvanklik verwag, daar sou aankom. Ons moes dus in Barcelona stop vir so paar dae aangesien Marceille se hawe ons eers op die 25ste Mei sou kon akkomodeer.”

Daar was so paar oomblikke van verligting waar alles amper gelyk het of dit weer “okay” sou wees.

Op die 12de Mei daag die Norwegian Break Away in Barcelone se hawe op en die Europieërs aanboord word na hul tuislande toe gerepatrieer. Daleen vertel hoe daar elke middag afkondigings gemaak is oor vlugte uit Barcelona uit en hoe sy paniekbevange aan haar tassies geklou het want enige oomblik sou hulle haar naam ook roep. Dit het egter nie gebeur nie en stelselmatig het die dae in weke verander totdat daar uiteindelik op die 9de Junie ‘n deurbraak kom.

“Ons het op al wat ‘n webwerf is gaan soek totdat ons uiteindelik ‘n vlug na Suid-Afrika vir die 17de Junie gekry het. Ons bestuurder het dit goedgekeur en ons kaartjies is vasgemaak. Ons was oppad huistoe.”

Maar onverwags op die 10de Junie storm haar bestuurder in ‘n vertrek in met die nuus dat die Suid-Afrikaners die volgende oggend hul vissums moet gaan doen en hul papierwerk in order saql moet kry om moontlik daardie volgende dag al te vlieg. Met ‘n geskarrel en gesukkel is die handjievol Suid-Afrikaners daar uit. Die vissums en paspoorte is gestempel en almal is toe aanboord ‘n vlug na Duitsland. Daar was egter nog ‘n kinkel in die kabel en die vlug word in Duitsland vertraag waar die passasiers toe almal oornag in ‘n hotel opgesit word. Die volgende oggend is almal vroeg weer lugahwe toe om nie die enigste vlug Suid-Afrika toe te verpas nie.

Aanboord word daar met ons meegedeel dat die vlug eintlik eers gou in Duitsland en daarna in Moskou gaan stop.

Die stukkende vliegtuig

Op die vliegtuig neem ek sommer vinnig my sitplek in en een van my vriende wat op ‘n ander skip gewerk het, kom by gang afgestap. Uit opgewondenheid uit “high five” ons mekaar en skree sommer uit volle bors uit da tons huistoe gaan. En toe bly die vliegtuig doodstil net daar op die aanloopbaan. Ek sien daar is eweskielik so groep man in geel veiligheidshempies doenig by die deur en hulle lyk redelik opgewerk. Maar ons sit maar daar met ons maskertjies aan en wag. Ons gaan huistoe mos.”

Daar het baie dinge in die volgende uur gebeur, maar opstyg was nie een van hulle nie. Die kaptein laat weet sy passasiers dat hulle geduldig moet wees terwyl die tegnikuste sukkel om die vliegtuig se deur, wat nie wil behoorlik toemaak nie, te herstel. “Uiteindelik kondig hy toe weer aan dat die deur nou reg is en ons sal binnekort kan opstyg. Maar ons bly steeds sit. So met ons maskertjies op ons bakkies in ‘n vliegtuig wat propvol mense is, met nie een enkele lugreëlaar wat werk nie. Vyf ure later kom die lugwaardin verby en sê ons gaan nou kos kry want ons sit al solank en wag. Net toe ons begin eet kom die kaptein se stem weer deur en ons word vertel dat die vlug gekanselleer is en ons more weer sal probeer.”

In afwagting en uiot vrees om haar vlug te mis, het Daleen geweier om haar bagasie uit te pak.

So word al die passasiers weer van die vliegtuig afgelaai en is hulle terug hotelkamers toe. Hierdie keer darem in die Hilton op SAL se onkostes natuurlik. Die volgende oggend is almal weer vroeg lughawe toe om betyds deur doeane te gaan en reg te wees vir hul 14:00 vlug. Skielik bars daar absolute chaos in die lughawe uit.

“Dit was totale chaos. Mense het paniekbevange begin skree en hardloop en gil. ‘n Suid-Afrikaanse vrou het buite haarself begin skree dat die vliegtuig nie veilig was nie en dat SAL nie ons veiligheid sou kon verseker op die vlug nie. Dit was mal hoor!”

Die skreeuende vrou was blykbaar ‘n werknemer van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en het na bewering uitgevind dat die vliegtuig onveilig was. Volgens Daleen het ‘n tweede vrou van die lugdiens kalmte herstel en aan die Suid-Afrikaners verduidelik dat die vliegtuig veilig was om te vlieg, maar dat een van die opblaasbare lewensreddingsboodjies foutief was. Volgens haar sou die lewensreddingsvlot nie behoorlik ontplooi in geval van ‘n noodlanding nie op water nie.

“Hulle het toe vir ons gesê dat die vlug sou kon opstyg, maar dat daar asgevolg van die stukkende opblaasboodjie, daar 70 minder passasiers sou moes wees, so van ons sou vrywillig moes agter bly in Duitsland. Net daar het een van die passasiers, ‘n meisie wat nog ‘n geldige werkspermit vir die Shengenstaat gehad het, haar hand opgesteek en gevra of SAL haar kostes sou dek indien sy vrywillig agter bly. Die dame van SAL het met haar vingers aanhalingstekens in die lug gemaak en geantwoord “natuurlik”. Dit was duidelik dat ons op daai vlug moes kom, maak nie saak hoe nie.”

Uiteindelik is almal weer op die vliegtuig en begin hulle die twee ure lange vlug Moskou toe. Daar aangekom word die passasiers met nog ‘n struikelblok ontmoet. “Hier in Moskou moes on snog passasiers oplaai, maar die probleem is toe dat daar 55 “double bookings” is en die mense weier almal om van die vliegtuig af te klim. So sit ons toe nog so paar uur met die vliegtuig se bemanning wat met die passasiers probeer onderhandel totdat daar uiteindelik vir almal gesê is om net ‘n sitplek te kies en te sit da tons vlieg. So het dit toe ook gewerk en ons is uiteindelik oppad Suid-Afrika met die stukkende opblaasboodjie en die 55 ekstra mense. Ek het net daar vir my ‘n slaappilletjie gesluk en toe ek nege ure later wakker word is ons op die aanloopbaan by OR Tambo. Ek was by die huis. Amper.”

“Ek het nou net mooi genoeg gehad teen dié tyd, so gisteraand in die stort het ek die woord ‘help’ op die opgewasemde speel uitgeskryf.”

Die vlug het Maandagoggend, die 15de Junie in Johannesburg geland. Die passasiers is met bussies onder polisie bewaking na die Centurion Lake hotel geneem. Daar sal hulle nou vir die volgende 14 dae in kwarantyn deurbring voor hulle toegelaat sal word om huistoe te verkeer.

Intussen sit Hettie Marx hier in Tzaneen geduldig vir haar dogter en wag. “Ek is net so ongelooflik verlig dat sy veilig terug is, ek was so bekommerd. Sy is my alles, en ek gaan haar opdruk sodra ek haar weer sien.”

Daleen het aan Bulletin die belofte gemaak dat sy vir ons lesers ‘n “selfie” sal neem die oomblik wat sy by die ingang van Tzaneen verby is. “Ek sal sommer by die ingangsbordjie vir julle poeseer. Net as bewyse dat ek werklik terug is. Al is dit net bewyse vir myself. Want dit moet wees.”

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here