Dis na vieruur op die oggend van Sondag 29 April. Een van die mooiste Strauss-walse het pas in die agtergrond verdwyn. Nou blaas ‘n hobo die briljantheid van ‘n vergange musikus uit, gesteun deur pragtige viole en klarinette.

Kort tevore was ‘n herhaling van ‘n reeks voorlesings uit die verhaal Bitter Heuning deur skrywer Hermione Suttner. Die suiwer menslikheid in die verhaal het Klaas Vakie finaal weggestuur.

Dit het herinneringe van die verlede teruggeroep, soos die dag toe jy met vroetelende vingertjies voor my gestaan het oor die gebrek aan kos in ons woonplekkie in Jan Niemandpark. Dit was ‘n onbeskryflike toneel wat ek so hard probeer miskyk het.

In my hart was ‘n stukkie hoop en ek het met ons laaste R5,50 kafee toe gestap vir ‘n brood en dalk ‘n pint melk. Toe draai ek by die perdeplek in en speel ‘n trifecta vir R3,50. En toe wen ek R933,00. Dis die dag toe ek met die gelaaide kostrollie deur die veld huis toe gekom het. God het toe al geweet hierdie mense het hulp nodig.

Daar was etlike ander soortgelyke tonele, soos die oggend toe ons aardse besittings deur onbeskofte en genadelose werkers in gordyne toegedraai en op die binnehof van ‘n woonstelblok uitgesmyt is. Dit was in skrille kontras met die kortstondige pretrit agterin ‘n polisievangwa en ‘n klomp ander grappighede soos toe Paul-Charl by die Kings se oprit uit sy drasakkie geval het.

En dan was daar ook Jeep wat die voorsitter van alle sittende honde was en sy tragiese einde, soos ook die voorruit en ligte van die Volla in Lynnwood Manor.

Sonder vreugde het dit ook nie verloop nie. Soos die rekord van 34 liefdesoomblikke binne 36 ure en ‘n Krismis-ete met wyn in ‘n private kamer van die Wilgers-hospitaal.

Om nie eens te praat van die balju wat buite in die reën gestaan het nie, net om te hoor ek het net ‘n kitaar waarop hy beslag kan kry. Hy het sy nat kop twee keer geskud en in die niet verdwyn.

Seker een van die hartlikste oomblikke was toe ou Ettienne Kriel betyds by die landdroshof in Pretoria-Noord opgedaag het om te kom saamstem dat ek met die vrou in die paisley-rok in die huwelik tree.

Dit was net ‘n grepie uit Pretoria. Duisende ander episodes sou daarna volg, soos die sogenaamde vuil huisie langs die Bergrivier in Velddrif en die Jesus-klip buite Vredenburg, asook die kat se moles in die bakkie.

Een deel wat onvergeetlik sal bly, was die reis met die woonwa tussen Pretoria en die Weskus. Niemand sou dit ooit kon namaak nie. Die rit was soos ‘n droomvakansie, ondanks die taai skaapvleis van Aberdeen en die gesukkel met die tentpenne in Hermanus. Jarmut se verhaal staan heeltemal eenkant.

Vervolg volgende week.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here