Danksy ‘n video van ‘n skoolmeisie wat soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het waar sy die krieketbal keer op keer skoon gemoker het, het die tonge in krieketkringe behoorlik gegons. Sedertdien skyn die kollig nou op plaaslike stêr, Elandri Janse van Rensburg.

Die 15-jarige, Janse van Rensburg is ‘n leerder van die Hoërskool Merensky wie se broer, Kobus, op Saterdag die 29ste Augustus die video opname van haar gemaak het terwyl sy besig was om in die krieketnette haar kolfvernuf op te skerp.

Diegene wie nog nie gesien het hoe hierdie meisie die krieketkolf na willekeur rondswaai nie, kan gerus Hoërskool Merensky se Facebook-blad besoek en bietjie gaan loer hoe dié gr.9 meisie kan kolf.

Janse van Rensburg se passie vir krieket het sedert sy op laerskool was begin ontwikkel waar sy saam met haar broer en sy maats ‘tuinkrieket’ gespeel het. Dié meisie is ook ‘n kranige spiesgooi-atleet en net so behendig met ‘n hokkiestok.

Sy was ‘n oud-leerder van die Laerskool Tzaneen waar sy ondermeer in spiesgooi by die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap ‘n goue medalje verower het. Alhoewel Janse van Rensburg steeds aan atletiek en hokkie deelneem, is krieket haar werklike passie.

“My Pa, Wessel en my broer, Kobus is grootliks wie my aanspoor om sukses in krieket te behaal. Hulle help my baie en verstaan wat ek wil bereik. Maar ek moet ook krediet gee aan al die afrigters wie my altyd help en my afrigter hier by Merensky, coach Stebian van der Walt.”
Die Proteas vrouespan se openingskolwer, Laura Wolvaardt, is een van die rolmodelle wie Janse van Rensburg nastreef.

“Laura het op ‘n baie jong ouderdom begin speel vir die Proteas. Sy het aan my bewys dat selfs op ‘n jong ouderdom kan ‘n mens jou drome bereik. Dis waarom sy ‘n aansporing en rolmodel vir my is.”

“My rolmodel het ook selfs my video gesien en vir my ‘n baie bemoedigende boodskap gestuur waar sy gesê het ek moet net aanhou om hard te werk. Ek het vir my krieketheld baie dankie gesê waarop sy teruggeantwoord het dat as ek aanhou hard werk, wie weet, dan kan ons eendag moontlik nog saam in die Proteas-span speel.

Janse van Rensburg sê sy besef dat dit ongelooflike harde werk en deursettingsvermoë gaan verg om dié vlak van professionale krieket te bereik, maar dit sy wel kan sien daarvoor om haar droom te verwesenlik.

“Ek maak gewoonlik video opnames met my selfoon van my oefensessies sodat ek na dié tyd dit kan bestudeer om te bepaal waar ek foute begaan. Wanneer my broer van Johannesburg hier kuier, dan maak ons tyd om saam krieket te oefen. Ek het regtig nie verwag dat die video só ‘n inpak sou maak nie!”

Volgens die krieketbestuurder van die Hoërskool Merensky, Stebian van der Walt, verdien Janse van Rensburg die agting vir die individuele werk wat sy tydens die Covid-19 grendeltyd ingesit het. Sy en haar mede-spelers het geen keuse gehad as om op hul eie te oefen nie.

“Dit het geverg dat die spelers kreatief moes dink om hul krieketvernuf opgeskerp te hou. Ek het tydens die inperkings deur middel van die Zoom video program oefensessies aangebied. Ek het oefensessies gemaak vir die spelers om by hul huise toe te pas.”

“Ek dink dié blootstelling wat sy gekry het deur die video het haar selfs meer aangespoor om haar doelwit te bereik. Maar dit gaan verg dat sy nou harder moet werk om daardie doelwit te bereik”

Janse van Rensburg is egter vasbeslote en positief dat sy wel met volharding, geloof en hardewerk hierdie doelwit sal kan bereik.
“Die spelers moes in hierdie moeilike omstandighede mense by die huis inspan om soms te help om die oefeninge te kan.”

“Gelukkig was my broer tydens die eerste twee maande van die grendeltyd hier in Tzaneen gewees om my te kon help met die oefeninge. Sy liefde en passie vir krieket sowel as sy kennis van die sport was ek gelukkig om te kon oefen”, het Janse van Rensburg gesê.

Om ‘n krieketbal keer op keer met mening raak te slaan vereis nogal fisiese krag om dit vol te kan hou. Janse van Rensburg reken spiesgooi het beslis gehelp om haar fisies sterker te maak.

“Ek het ‘n onblusbare passie vir krieket en my mikpunt is om hard daaraan te werk, want dis al hoe ek my mikpunt gaan bereik. My eerste doelwit is om vir die Proteas se o/19-span te speel. Daarna wil ek my opwerk om uiteindelik vir die Proteas se senior vrouespan te speel.”

“Ek sal net volhou om hard te werk en as ek wel eendag vir die Proteas in aanmerking sal kom, sal ek baie dankbaar daarvoor wees.”
Janse van Rensburg sê vir ontspanning spandeer sy graag tyd om krieket op TV te kyk saam haar familie. Haar skoolwerk neem sy natuurlik baie ernstig op en glo dis belangrik om ook akademies te presteer.

Vir ontspanning is oefen een van haar gunsteling tydverdrywe. Fiksheid is vir haar baie belangrik en spandeer graag tyd om te gaan draf.

>