Dit is vir Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA) nie genoeg dat die maatskappye wat tydens en spesifiek as gevolg van Covid-19 tenders ontvang het, se name bekend gemaak word nie.

Die regering behoort eerder te vra hoe lank die verskynsel van nepotisme en kaderbevoordeling reeds aan die gang is wanneer dit kom by tenderpraktyke.

“Dit is nie net van belang om te weet aan wie tenders toegeken word nie, maar ook hoe deursigtig die proses van toekenning is,” sê mnr. Louis Meintjes, die president van TLU SA.

“Die ANC het ‘n lang geskiedenis van tenderbedrog en het Suid-Afrika se vertroue in die proses heeltemal vernietig.”

TLU SA eis dat elke staatsdepartement ‘n tenderraad het wat staatsprojekte volgens aanvaarbare en deursigtige prosedures toeken. Die raad moet uit ten minste drie lede van opposisiepartye bestaan om te verseker dat die ANC nie verder tenders aan familie, vriende en vennote toeken nie.

Die tenderprosedure moet van die bekendmaking en advertensie van ‘n spesifieke tender, tot by die indiening en toekenning daarvan deur die tenderraad totaal deursigtig wees.

Die kriteria vir die toekenning van ‘n tender, asook die vereistes waaraan die persoon of maatskappy wat suksesvol wil tender, moet ook in die advertensie bekendgemaak word.

Die uitgangspunt dat tenders op rasgronde toegeken behoort te word, moet onmiddellik gestaak te word. Kundigheid en die vermoë om die projek suksesvol uit te voer, moet die enigste kriteria wees in die toekenning van ‘n tender.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is geruïneer en die land beskik hoegenaamd nie oor die vermoë om geld te verspil op tenders wat opgeblaas of verkeerd toegeken word nie.

“Die wyse hoe daar tot op hede in Suid-Afrika met tenders omgegaan is, skep die indruk dat dit aanvaarbaar is om bloot bekend te maak watter individue en organisasies tenders ontvang en dat dit tenderbedrog die hok sal slaan”. “Bekendmaking waarborg geensins deursigtigheid nie.”

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here