Abandoned building in Tzaneen
Hierdie ou verlate gebou was eens die woning van 'n staatsamptenaar. Vandag dien hierdie gebou as hawe vir die dorp se straatslaapers en dwelmsmouse. Foto: Joe Dreyer

Die verlate strukture op die hoek van Agatha en Pienaar Straat in Tzaneen was op ‘n tyd luukse woonhuise vir staatsamptenare. Die huis naaste aan die munisipale kantore wat grens aan beide strate, was so paar dekades terug die woning van die Nagel-gesin. Die hoof van dié gesin het vir Korrektiewe Dienste gewerk, en het maaltye vir die bandiete voorberei. Hierdie huis het aan die Department van Openbare Werke en Infrastruktuur behoort maar is later aan die munisipaliteit oorgedra. Tussen die twee huise staan ‘n oop veld waar boemelaars reeds jare terug nes geskrop het.

Die grootste van die twee huise was die woning vir die destydse hoof landdros, Jan Steenkamp. Daar is na bewering gereeld “hooggeplaastes” by hierdie woning gemerk en die huis het bekendheid vir die gereelde onthale verwerf.

Abandoned building in Tzaneen
Hierdie verlate bouval was op ‘n tyd die familiehuis van die Nagel-gesin. Foto: Joe Dreyer

Sedertien staan beide eiendomme leeg en verwaarloos. Volgens die woordvoerder vir die munisipaliteit is daar reeds ‘n tydlank bespiegel oor wat om met hierdie huise te maak. Die woordvoerder het verder gesê dat daar planne in die pyplyn is om die Nagel-huis te sloop om plek te maak vir nog munisipale geboue aangesien die Withuis nou te beknop begin raak. Dit spreek boekdele van die hoeveelheid werknemers wat daar kantoorspasie opneem.

Die Steenkamp-huis is steeds die eiendom van die staat en daar is nog geen aanduiding of dieselfde lot op hierdie gebou wag nie. Intussen bly die geboue en die boemelaarnes wat hulle skei, steeds een van die dorp se groot oogsere.

Nog meer interessant, is die feit dat Pienaar Straat nooit as ‘n straat gepromulgeer is nie. Dit is eintlik ‘n deel van die munisipaliteit se erf en is oorspronklik bedoel om ‘n deurgang vir munisipale voertuie te wees.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here