Chris Else tydens sy optrede by Aborpark Lodge. Foto's: Roelof de Jonge

Chris Else, Suid-Afrika se Facebook country-musiek sensasie, het Saterdagaand die 24ste Oktober op Tzaneen by Arborpark Lodge opgetree met plaaslike aanhangers wat aan sy lippe gehang het.

Elize Gouws was een van Chris Else se aanhangers wat die country-musiek sanger se vertoning Saterdagaand by Arborpark Lodge op Tzaneen terdeë geniet het en nog vir lank sal onthou.

Else het met sy unieke verwerkings en sonder om van die oorspronklike genres af te dwaal, bekende liedjies van legendariese country sangers soos van ondermeer Jim Reeves, Kenny Rogers, Don Williams en Chris Christofferson gesing.

Chris Else.

Dit het die gehoor en veral ouer gardes teenwoordig met heimwee na dae lank gelede toe teruggevoer. Die sanger is egter nie net beperk tot country-musiek nie en sy verwerkings van ‘n paar gewilde Afrikaanse nommertjies het selfs sy gehoor se voete aan die jeuk gehad om bietjie langarm te skoffel, oftewel koekmeel op die dansvloer te strooi.

Hierdie geleentheid is deur Sarie Vermaak, eienaar van Arborpark Lodge, met hulp van haar skoondogter, Pamela Vermaak, moontlik gemaak. Wat Else se optrede soos besonders maak is die feit dat die opbrengste aan welwillendheids-instansies geskenk gaan word.

Chris Else het sy gehoor vermaak met gewilde country liedjies van bekende kunstenaars soos ondermeer Don Williams en Jim Reeves.

Volgens Vermaak (Sarie), het Else se optrede in die omgewing van R20 000 gelewer waarvan die geld eersdaags aan verskeie plaaslike welwillendheids-organisasies verdeel en geskenk gaan word.

Die instansies wat baat vind by die opbrengste is:

Cansa

God’s Haven Selfsorgsentrum

Suid-Afrikaanse Vroue Federasie Tzaneen

Noah’s Ark.

Chris Else tydens sy optrede by Arborpark Lodge op Tzaneen.

“Ek het gedurende die afgelope maande se inperkings Chris op Facebook begin volg. Ek het toe besef daar is ‘n aantal van sy aanhangers hier op Tzaneen. Ek en my skoondogter het toe begin saamspan om ‘n optrede gereël te kry. Ek het met Else in verbinding getree om ‘n optrede hier te hê”, het Vermaak gesê.

So gou as wat die gasvryheidsbedryf weer aan die gang gekom het met vlak 1 se inperkings, het Vermaak-hulle die bal aan die rol gesit om hier te laat optree. Met die datum geboek vir die 24ste Oktober, het die woord versprei vir Else se vertoning.

“Ek het besef dat mense vanweë die afgelope maande se inperkings uitgehonger is om gesellig te verkeer. Wat die ete aanbetref, het ek van die meet ‘n kerriegereg met wyn ingedagte gehad om voor te sit.”

Vermaak en die Arborpark Lodge se span werkers het weliswaar ‘n voortreflike geleentheid gereël wat beslis byval gevind het deur ierder en elk wat Else se optrede bygewoon het.

Die driegangmaaltyd het soos koningskos gesmaak met ondermeer watertand kerriehoender en -beestert, groenboontjies met aartappels, soet pampoen en stampmielies wat vir die hoofgereg bedien was. Die persoon wat opgeskep het was beslis nie skaam nie, want dit was ‘n berg kos om te versit.

Chris Else.

Vermaak sê hulle uiteindelike doel van Else se optrede was nie om geld te maak nie, maar om eerder die winste terug te ploeg in die gemeenskap wat dit die nodigste het, veral in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede wat weens die Covid-19 se inperkings veroorsaak was. Sy het gevoel omrede die besprekings vir Else se vertoning soos soetkoek verkoop het en soveel belangstelling gewek het, het Vermaak die weg gesien om eerder die opbrengste aan nie-winsgewende welwillendheids-instansies te skenk.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here