Tzaneen en omgewing se boere het verlede naweek die langpad Vrystaat en Karoo toe aangedurf om die hulpkreet van die boere daar te antwoord.
Tzaneen en omgewing se boere het verlede naweek die langpad Vrystaat en Karoo toe aangedurf om die hulpkreet van die boere daar te antwoord.

‘n Konvooi van vier trokke en vier bakkies het vol kos en voer verlede week Donderdag uit Tzaneen uit, die pad Vrystaat toe aangepak. Letaba Brandwag lede, onder leiding van Carel van der Grijp en Dirk Joubert, het in ‘n tydstip van slegs vier dae, ‘n paar ton voer, water, kos en kruideniersware vir die boere op Ottosdal in die Noord-Wes en Carnarvon in die Karoo ingesamel.

Boere en sakeondernemings sowel as individueë van regoor die Groter Tzaneen omgewing het hul harte en beursies oopgemaak om die boere in die brandgeteisterde Vrystaat te hulp te snel. Verlede week het Bulletin berig hoe die plaaslike gemeenskap hand bygesit het om aan die noodkreet van die Vrystaatse landbouers gehoor te gee. Jongmense verbonde aan die Letaba Brandwag het gehelp om vragte voer te laai terwyl die vrouens “Boksie vir die Boervrou” pakkies aan mekaar gesit het.

Gerrit Vermeulen, ‘n boer uit Carnarvon vang ‘n blaaskansie tussen deur die aflaai van voer. Foto: Carel van der Grijp

“Dit was ‘n allemintige poging, maar deur die hulp van die boere en sakelui om ons, het ons weereens bewys dat die Suid-Afrikaanse boere gemeenskap mekaar sal bystaan in tyd van nood,” het Van der Grijp aan Bulletin gesê. “Vandag is ons trots op wat ons mense in ‘n baie kort tyd kon bemagtig. Daar was groot manne wat met trane van verligting in hul oë die voer vir hul kudde van ons trokke af op hul bakkies gelaai het. Dit maak ‘n mens se hart bly.”

Die konvooi uit Tzaneen het by twee ander trokke op Standerton aangesluit en is saam tot op Ottosdal waar twee van die trokke en twee bakkies omgedraai het. Die res van die manne, onderandere Van der Grijp en sy seun, het verder deur tot op Carnarvon gereis. Daar aangekom het die omgewing se boere hul bakkies en trokke nader getrek en die skenkings met oop arms ontvang.

“Dit was wonderlik om te beleef,” het Van der Grijp later vertel. “Jy weet, dit is so droog daar, dat die een boer vertel sy seuntjie van 4-jaar oud, nog nooit reën gesien nie. Aan almal wat gehelp het met bydraes van kos, voer, trokke en tyd, sê ons opreg dankie. Julle het mense se lewens verbeter, mag julle daarvoor geseën word.”

Meer as 100 000ha weiveld is in ’n verwoestende brand in groot gedeeltes van die Vrystaat en Noord-Kaap op die 20ste Oktober vernietig. Volgens ’n persverklaring deur Agri SA is honderde stuks vee, wild en huise verwoes. Gebiede wat deur die brande geraak is sluit Boshof, Dealesville, Hertzogville en Hoopstad in.

Letaba Brandwag se lede saam met die boere uit Carnarvon in die Karoo.

Agri SA het ’n skenking van R300 000 aan Vrystaat Landbou (VL) gemaak om geaffekteerde produsente en plaaswerkers in hierdie tyd van nood by te staan. In ’n persverklaring het VL bekendgemaak dat R100 000 uit hul rampfonds vir brandstof vir vervoerskenkings beskikbaar gestel gaan word. VL doen ’n beroep op enige iemand wat betrokke wil raak, om hulle te kontak.

Letaba Brandwag se ondersteuningsprojek het bygedrae tot die landswye insamelingsprojek wat duisende tonne voer en kos vir die Vrystaters gelewer het.

>