Nelvin Nhuvunga (Beste Junior Seunsbaan-atleet), Megan-Lee Mans (Beste Junior Meisiesveldatleet en Junior Victrix Ludorum) en Shammar Ngobeni (Beste Senior Meisiesveldatleet)

Die Hoërskool Ben Vorster se atlete het puik presteer met hul deelname aan die NWU-Twizza Interskole Atletiekbyeenkoms vir Groep 4 skole. Hierdie byeenkoms was op Woensdag die 19de Februarie by die Ruimsig Atletiekstadion aangebied.
Ben Vorster se atletiekspan het vierde algeheel geëindig uit die agt deelnemende skole. Die hoërskole teen wie die Vossies-atlete meegeding het was Eldoraigne, Jeugland, Driehoek, Hugenote, Akasia, Florida en die Hoërvolkskool Potch.
Ben Vorster het altesaam 11 goue-, 20 silwer- en 24 bronsmedaljes verower. In die afdeling vir seuns het Ben Vorster die tweede plek ingeneem met 335 punte. Eldoraigne was eerste met 389 punte.
Ben Vorster se meisies-atlete was vyfde algeheel met 306 punte met die meisies atlete van Eldoraigne wat weereens die botoon gevoer het deur eerste te eindig met 437 punte.


In die algehele span-uitslae het Ben Vorster vierde geëindig met 641 punte. In die eerste plek met 826 punte was die span van Eldoraigne. Die tweede plek was deur Jeugland beklee mt 670 punte gevolg deur die span van Driehoek met 642 punte.
Die toekenning vir die Beste Junior Meisiesveldatleet was aan Megan-Lee Mans toegeken vir haar gooi in die diskus-item vir meisies O/14. Mans het ‘n afstand van 31,48m bereik. Sy het ook die Junior Victrix Ludorum vir haar prestasie ontvang.
Shammar Ngobeni wie in die verspring-item vir meisies O/17 deelgeneem het, het ‘n sprong van 5,53m gespring. Hierdie wensprong het aan haar die toekenning vir die Beste Senior Meisiesveldatleet besorg.
Nelvin Nhuvunga se uithalerlopie in die 100m-item vir seuns O/14 met ‘n tyd van 11,55 sekondes was genoeg om die toekenning vir die Beste Junior Seunsbaan-atleet in te palm.

>