Die egpaar se huis wat deur 'n massiewe inferno in puin gelê is.

“Jy sal jou nie kan indink hoe vinnig so ‘n brand deur jou huis jaag nie. En dit maak so gruwelike geluid ook! Nee wragtig daar was net ontploffings en goed wat val om jou. Soos iets uit een van daai oorlogflieks.” So het oom Johannes Kotzé (63) die gebeure van Donderdagoggend, 23ste April, aan Bulletin beskryf.

Om middernag is oom Johannes en sy vrou, tannie Elise (61), saam deur ‘n harde slag vanuit een van die aangrensde kamers in hul huis wakker geskud. Hierdie slag is deur ‘n gesuis gevolg en oom Johannes is uit om ondersoek te gaan instel.

“Ek het dadelik gesien daar is fout en terug kamer toe gedraf om vroulief te kry sodat tons uit die huis kan kom. Ons het eers probeer om die vuur te blus, maar dit was ter vergeefs en besluit toe om te gryp wat ons kon en uit te hardloop,” vertel hy. “Dit is iets verskrikliks hoor. Binne sekondes is ons deur die rook omring en dit is toe dat ons agterkom ons gaan in die moeilikheid wees as ons nie nou hier uit kom nie.”

“Jy sal nie glo watse geluide uit daai vlamme uit kom nie jong. Klink nes ‘n Hollywood fliek!”

Die egpaar is daar uit en oomblikke later is die brandweer op die toneel. Een van die bure moes hulle ontbied het. ‘n Ondersoek deur die assessors die volgende oggend het bevestig dat die brand deur ‘n elektriese kortsluiting in ‘n multi-prop in die tannie se naaldwerkkamer veroorsaak is. Die kortsluiting het vonke veroorsaak wat op hul beurt die linne in die kamer in vlamme in laat uitbars het. Binne oomblikke was tannie Elize se naaldwerkkamer ‘n woedende inferno.

Slegs 20 minute na die brand ontstaan het, het die Mopani Distrik se brandweerspanne reeds die ergste van die vlammer onder beheer gebring. Deon van Tonder het die egpaar onder oë gehad en lede van die Tzaneen Buurtwag het begin inval om te probeer red wat gered kon word. Die Kotzé’s is van die toneel af na hulle dogter, Chantelle, se huis toe waar hul tans die res van die grendelperiode sal deurbring. Daarna sal hul soek vir nuwe blyplek.

“Ons het 22 jaar in hierdie huis gewoon en ons kinders is almal daar groot gemaak. Maar niks kan daar gered word nie en so ons sal nou na al hierdie corona-besigheid verby is, begin te soek vir ‘n plekkie om te huur. Daarna sal ons moontlik vir ons ‘n kKleiner plekkie op daai erf bou. Tzaneen het  het weereens aan ons bewys hoe ‘n gemeenskap kan saam staan in tye van nood. Vir julle almal sê ons hartlik baie dankie.”

Bulletin het besluit om hand by te sit en sal deur die loop van volgende week enige donasies in die vorm van klere en linne of enige ander toebehore, by gemeenskapslede kom oplaai en vir die egpaar neem. Ons sal net eers seker maak wat als kort, en sal dan vir ons lesers ‘n kennisgewing op oor ons Faceboek-blad pos. Hou gerus sosiale media dop.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here