Ek het so lank gesoek na ‘n stukkie papier op die rekenaar, maar hierdie ding gooi net vals beloftes uit. Nou skryf hy vir my bevele voor waarvoor ek op ‘n Saterdagnag niks lus het nie.

Dis maar ‘n gesukkel wanneer die ooglede hang en die hart se bang begin knaag aan ‘n mens se klou aan die oorblywende selfvertroue. Hier is nietemin ‘n paar gedagtes om aan te kou.

So ‘n spekvet paddatjie spring lekker rond in my voortuin en vreet babavliegies en ander goggatjies op. Hy skrik elke keer as ek skrik en dan bedaar ons altwee. So asof ons met (en nie vir) mekaar bedoel is. Ek hierdie kant en hy daai kant.

Dis al ‘n hele paar weke se vriendskap in ons gesamentlike tuintjie hier onder die groot koraalboom met al sy takslange. Hy het my nog nie aangespreek nie, al praat ek aanhoudend in sy guns.

Hy begin traag reageer op sy mensbedinkte naam van Piet Poepol en draai sy hele lyf as mens hom daarop roep, veral as die slange lastig raak.

Toe ek vanoggend so sukkel om die spuitkan aan die gang te kry vir die stryd teen die tamatiewurms, kom hy agter my rug uitgehop met ‘n klein sprinkaan in sy bek. ‘n Gawe ontbyt vir hom, het ek gedink terwyl ek my hande met gif besmet.

Net daar besluit ek om ook iets vir die breek van die nag se vastyd te nuttig. Na ‘n geskarrel van so vyftig sekondes in die “kluis” van my ongeordende gehuggie was daar darem iets om te geniet. Dit was ‘n halwe pakkie rooipeper, ‘n gesteelde pakkie bruin suiker en ‘n bottel rooiwyn.

Kyk, toe Piet Poepol sy laaste sluk aan die springkaan gee, toe vertel ek hom van ‘n vraggie gedagtes waarvan paddas nog nooit gehoor het nie. Hy’t daar met sy slymlyf op die voorstoepie gesit en luister tot ek uitgepraat geraak het. Dit was toe al hoeka donker, die bottel boonste onder en tyd vir sy slaapkwakery.

Wat ek hom alles vertel het, was in belang van volkland, vaderland en feetjieland. Die inhoud daarvan is aan hom toevertrou en nie oordraagbaar nie. Want sien, paddatjies soos Piet Poepol vreet feitlik enigiets vir brekfis, maar praat nooit hul enigste bekke verby nie.

Elke keer as ek op iemand se stoep of in ‘n haarsalon na ‘n skinderstorie sit en luister, kry ek so ‘n lekkerte.

Dit wat ek as koerantman aan die mense gaan verkondig, sal net ‘n krieseltjie wees van wat ek vir Piet Poepol sou vertel het.
Piet was lanklaas hier. Waar hy ookal mag wees, hoop ek hy hop met al ons persoonlike gesprekke en geheime af en op.
Hy was nie die enigste welkom besoeker nie.

Daar was ‘n paar ander, maar hieroor sal ons later verslag doen.

>