‘n Plaaslike sekuriteitsfirma het die naweek wéér vermeende vrugtediewe buite die boorde van die plaas Allesbeste betrap. Volgens Corrie Large van die maatskappy Large Security, het sy wagte vroeg Sondagoggend verdagtes met ongeveer 25 kratte avokadoes naby die bekende Allesbeste padstal opgemerk.

Die vars-geplukte vrugte is tussen sakke vol ander vrugte, insluitend lemoene, by a straatsmousstalletjie naby die padstal ontdek. Volgens hom, het sy wagte vroeg die oggend vir hul skof aangemeld en toe die vrugte op ‘n bakkie op die sypaadjie naby die grensdraad gemerk. “My wagte het toe vir my drywer gesê daai avokadoes lyk vir hulle baie soos die Maluma’s wat hulle oppas. Hulle het toe die straatsmouse daaroor gaan uitgevra en dit is toe dat die smouse hulle begin aanrand en skel. Die wagte het ons beheerkamer om hulp gevra en ons reaksie eenheid het uitgegaan toneel toe.”

Die sakke lemoene wat bo-op die kratte avokadoes agter op die bakkie gelê het.

Die drywer van die voertuig waarin die kratte avokadoes vervoer is, het na bewering uit sy voertuig gespring en die bosse in gevlug toe hy die Large Sekuriteit voertuie merk. Tydens sy ontsnappingspoging het die verdagte deur ‘n geëlektrifiseerde heining aan die oorkant van die pad gespring.

Volgens Large het die straatsmouse (meerderheid vrouens) baie meer aggressief geraak met die aankoms van die gewapende reaksie eenheid, en het hulle om die wagte begin saamdrom. Een van die wagte is deur een van die vrouens met ‘n knopkierie aangerand.

“My broer, Cliff, is een van die gewapende reaksie lede wat hom na die toneel gehaas het. Toe die smouse nie wou luister en ophou om die wagte aan te rand en te dreig nie, het hy sy pistool uit gehaal en die groep gewaarsku dat hy homself en die wagte sou beskerm indien die situasie nie ontlont kon word nie. Dit is toe dat hulle begin bedaar.”

Die polisie is in kennis gestel, en het na hul aankoms op die toneel, verklarings by die sekuriteitspersoneel asook die plaasvoorman geneem. Die verdagte wat deur die heining gespring het, het intussen weer by die toneel aangekom nadat die polisie opgedaag het. Hulle het sy verklaring ook geneem.

“Die polisie wou glad nie enige van die smouse of die verdagte drywer arresteer nie, en het ook nie die plaasvoorman se verklaring dat dit wel hulle avos is wat gesteel is, aanvaar nie. Volgens hulle was dit blykbaar nie genoeg bewyse om die verdagte (die drywer) te arresteer nie,” het Large verduidelik. “Volgens die polisemanne doen hulle nie arrestasies nie want dit is die speurders se werk.”

Large het die speurtak geskakel en die situasie verduidelik. Volgens hom het die speurder gesê die polisielede is te lui om hulle werk te doen. “Die smouse het ook die hele storie verdraai en aan die poliselede gesê dat my ouens hulle aangerand het. Eers na ‘n lang gestryery kon my wag wie deur die smous met die knopkierie geslaan is, ‘n klag van algemene aanranding teen haar lê. Ons het ten minste ‘n saaknommer daarvoor, maar on sweet nie wat gaan kom daarvan nie.”

Die straatsmouse regoorkant die Allesbeste Padstal met die verdagte Np200 bakkie vol vrugte gelaai.

Volgens inligting ontvang is die drywer van die Nissan NP200 waarop die vrugte gekry is, die seun van een van die smouse. Die voertuig is ook in haar naam geregistreer. “Ons het inligting ontvang dat die drywer, ‘n 25-jarige man, reeds ‘n ruk lank al op die plaaslike sekuriteitsfirmas se radar is. Daar word beweer dat hy in ‘n paar van hierdie vrugte diefstal sake betrokke is. Daardie wit bakkie is ook in ‘n paar van die gevalle opgemerk.”

Teen druktyd gister, het ons nog geen verdere terugvoering ontvang nie en dit is op hierdie stadium nie bekend wat met die vermeende gesteelde vrugte, of die verdagte gebeur het nie. Ons kon ook nie met Allesbeste in gesprek treë nie.

>