Jamie Robbertson en Gerhardus Fourie, hoofleiers van die Hoërskool Merensky, by die Vanwykshoutbome wat hul geplant het in gr.8. Foto’s: Roelof de Jonge

Die Hoërskool Merensky se positiewe gees kan deur geen virus geblus word nie. Ten spyte van die afgelope vier maande se inperking is daar steeds verskeie projekte, wat ‘n verskil in die gemeenskap maak, op Plasieland aan die gang.

Die Plasies se bemarkingsbestuurder, Louis du Preez, het meer oor hierdie projekte uitgebrei.

Van hierdie projekte is ondermeer die The Presidents’ Award (TPA) se rolstoelprojek. Sedert 2018 word plastiek botteldoppies (proppies) en broodknippies herwin wat dan vir rolstoele geruil word. Die groep het alreeds een rolstoel in 2019 aan Karin Oosthuizen geskenk.

Volgens du Preez is die projek nie sommer iets wat oornag gebeur nie en dit neem ‘n geruime tyd om die plastiekdoppies en broodknippies in te samel. Daar is tans genoeg om nog ‘n rolstoel aan die Care Centre in Tzaneen te skenk. Die volgende rolstoel sê du Preez word reeds beoog om aan die Goue Jare se Versorgingseenheid in Mojadjiskloof geskenk te word.

Nog ‘n opwindende projek waaraan omtrent enige persoon kan deelneem en ook onder die TPA-vaandel gedryf word, is die “brei ‘n blok” projek. Honderde gebreide of gehekelde blokkies is alreeds van sover as Stilbaai ontvang. Teen die winter van 2021 vertel du Preez, gaan hierdie kombersies beslis ‘n warm verskil maak aan minderbevoorregte mense in Tzaneen se omgewing.

Die Hoërskool Merensky is bekend vir die aanplanting van inheemse bome. Hier is Jamie Robbertson en Gerhardus Fourie, hoofleiers van die Hoërskool Merensky, by die Vanwykshoutbome wat hul geplant het in gr.8. Foto: Roelof de Jonge

Die Hoërskool Merensky is bekend vir die aanplanting van inheemse bome. Die skool spog daarmee dat daar sedert 1998 ten minste 100 bome elke jaar op die skoolterrein aangeplant word. Vir die afgelope vyf jaar neem die gr.8 leerders met boomplantdag eienaarskap van die bome wat hulle geplant het.

Hulle moet tydens hul skoolloopbane dan dié bome versorg. Die matriekleerders van 2019 het elkeen met heimwee hul boom agtergelaat, en in die hoop om eendag met hulle gesinne in die skaduwee van hul bome piekniek te kan hou.

Op herwinningsgebied gee Merensky volgens du Preez oor die afgelope 10 jaar die pas aan. Behalwe vir die positiewe omgewingsinpak wat deur die skool se koolstofvoetspoor verklein word, het herwinning ook ‘n besliste finansiële voordeel vir die skool.

Nadia Last, Hoërskool Merensky se adjunkhoof van Landbou en organiseerder van die herwinningsprojek, is hier saam met die hoofleiers Jamie Robertson en Gerhardus Fourie. Foto: Roelof de Jonge

Interessant genoeg, het die skool ook ‘n katprojek aangepak. In 2019 het die katbevolking op die plaas vinnig vermeerder. ‘n Paar onderwysers en leerders het egter ‘n plan beraam. Eers word die katte so mak as moontlik gemaak deur hulle met katkos te voer. Vier katte is op hierdie stadium reeds gevang en gesteriliseer, terwyl dertig babakatjies aan gesinne gegee is om groot te maak. Hierdie projek beoog om al die katte te steriliseer.

Sedert 2012 is die personeel en die leerders betrokke met skenkings aan die Abraham Kriel kinderhuis op Modimolle sowel as die plaaslike SAVF se jaarlikse kersgeskenkprojek. Du Preez sê hierdie projekte maak ‘n verskil aan behoeftige kinders in ons omgewing. Bykomend hiertoe het die Verteenwoordigende Leerlingraad (VLR) begin om die terreinwerkers se kinders met kersgeskenke te bederf as blyk van waardering.

Radio Merensky is die Plasies se nuwe aanlynradiostasie wat op die 15de Junie met uitsendings begin het. Hier word daaglikse bemoedigende programme en boodskappe, sowel as opbouende nuusbrokkies en inligting vanaf Plasieland die wêreld ingestuur.

Verskeie Whatsapp-groepe is gedurende die grendeltyd geskep. Hiermee stuur onderwysers gereeld boodskappe aan leerders, wat nie net noodwendig op akademie fokus nie, maar ook die geestelike en emosionele welstand van die leerders in ag neem.

“Alhoewel Covid-19 die wêreld ‘n onseker plek gemaak het, staan die Plasiefamilie saam om betekenis te gee aan elke dag en ‘n verskil te maak aan die gemeenskap en Moeder Aarde.”

>