Die voorkoming van plaasaanvalle behoort nie net vir boere ‘n prioriteit te wees nie. Boere voorsien kos aan elke inwoner van die land en daarom is die veiligheid van boere van kardinale belang.

Volgens die Transvaalse Landbou Unie (TLU) moet elke persoon wat op ‘n plaas bly, veiligheidsbewus te wees. Dit is nie net boere wat aangeval word nie, maar ook hul gesinne, werkers en selfs kuiergaste.

Die eerste stap om ‘n plaas te beveilig is om ‘n mense se gedagtegang heeltemal te rig op veiligheid deur ‘n ‘security mindset’ in te neem. Plaasbewoners moet ten volle sekuriteitsbewus wees om enigsins ‘n kans te staan tydens ‘n aanval.

Hierdie soort van bewustheid gebeur nie oornag nie en moet oor en oor ingeskerp word. Dit is belangrik vir plaasboere om daagliks met hul gesinne en werkers te praat oor sekuriteitsaangeleenthede in en rondom die plaas sodat dit vir almal ‘n gewoonte word.

Die volgende is voorbeelde van waaraan daar aandag geskenk kan word:

Hou die veiligheidshekke toe en gesluit

Wees altyd bewus waar jou honde is en let op na hulle gedrag

Wees op die uitkyk vir vreemdelinge

Dra jou wapen aan jou, maar moet geen wapens openlik in die huis vertoon nie

Moenie kontant in die huis aanhou nie.

Dit is belangrik dat plaaseienaars eers in die regte stemming is voordat enige groot sekuriteitmaatstawwe toegepas word. Dit sal weining help om die wêreld se beste alarmstelsel te installeer as niemand dit aktiveer nie.

Of om kameras reg rondom die huis te installeer, maar niemand hou dit dop nie. Die TLU wil dus plaasboere aanraai om in die gewoonte te kom om meer veiligheidsbewus te wees, want dit kan dalk lewens red.

Hier is die belangrikste aspekte om jou werf te beveilig:

Evalueer jou huis

Loop in en rondom die huis en werf en identifiseer die swakpunte in die sekuriteit. Kyk waar dit die maklikste sal wees om in te breek. Elke huishouding gaan verskil. Sommige mense het waardevolle items in hul huis.

Maak seker dat hierdie besittings op ’n veilige plek bewaar word. Ander bedryf dalk ’n besigheid vanaf hul huis, maak seker dat alle kontant veilig gebêre word. Indien dit nodig is, vra ’n professionele sekuriteitspersoon om jou by te staan in die evaluasie. Sodra swakpunte geïdentifiseer is, kan plaaseienaars stelselmatig begin om dit te verbeter.

Veilige sone

Dit is belangrik om ’n veilige sone in jou huis te identifiseer. Dit is ‘n vertrek in die huis wat die volgende bevat:

’n Veilige ingang met verkieslik ’n sekuriteitshek wat gesluit kan word

Water en kos

Noodhulpkissie

Kommunikasiemiddels

’n Wapen.

Die hele gesin moe na hierdie vertrek beweeg in die geval van ‘n aanval. Maak seker die kamer bly permanent ingerig vir ’n noodsituasie. Daar moet ten alle tye ’n selfoon of radio in die kamer wees vir kommunikasie.

Wapens

Bewapen jouself. Boere is afgeleë en moet besef dat bystand gewoonlik nie vinnig gaan opdaag nie. Jy moet jouself en jou gesin kan verdedig. Maak seker dat jou gesin bewus is van al die wapens in die huis. Lei ook die lede van jou gesin op om ’n wapen te hanteer.

Maak seker die wapens is bekombaar en werkbaar. Daar is verskeie maniere hoe om jouself te verdedig, bestudeer alle moontlike opsies. Daar is ook verskillende wapens en nie alle wapens het ’n lisensie nodig nie. Kyk gerus na ‘n pepersproei en gasgewere.

Verantwoordelikhede

Elke lid van die gesin moet presies weet wat op ‘n daaglikse basis en in ‘n tyd van nood verwag word. Byvoorbeeld:

Wie sluit die deure?

Wie dra die kinders na ’n veilige area?

Wie gaan kry die wapens en watter wapens?

Hierdie verantwoordelikhede moet vooraf gereël word en ook geoefen word. Elke lid van die gesin, kinders ingesluit, moet presies weet wat om te doen en waarheen om te gaan. Dit help om die paniek te voorkom en verhoed irrasionele gedrag.

Dit is ook belangrik om vooraf te beplan wie mekaar se verantwoordelikhede moet oorneem indien iemand nie beskikbaar is nie. ’n Noodsituasie kan gebeur en nie almal van die gesin gaan noodwendig tuis wees nie.

Oefen

Oefening is soos die gom wat die hele plan bymekaarhou. Deur die plan te oefen word die panieksituasie minder van ‘n uitdaging. Wanneer adrenalien inskop, gaan ‘n mense se lyf outomaties die take uitvoer soos dit geoefen was. In die begin moet ’n noodsituasie weekliks geoefen word. Elke persoon moet presies weet wat hul take is en wat gedoen moet word.

Opsomming

Indien ‘n persoon op ’n plaas woon en nog nie ten volle sekuriteitsbewus is nie, moet ingesteldheid spoedig ontwikkel word. Dit neem tyd en moeite, maar daarsonder sal ‘n gesin moontlik in doodsgevaar wees. Deur jou gesin voor te berei, verminder dit nie net die gevaar nie, maar dit berei mens voor om die situasie beter aan te pak. Dit gee mense ‘n groter kans om ‘n plaasaanval te oorkom of te voorkom.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here