Anton Raaths en sy Tzaneense navigator, Louis Menge, het die afgelope naweek twee puik klasoorwinnings behaal in hul Volkswagen Golf.

Tydrenspanne het Vrydag en Saterdag die 16de en 17de Oktober stof opgeskop. Die derde en vierde rondtes van die 2020 Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap het die afgelope naweek nasionale en ook streekstydrenspanne van wyd en syd gelok.

Die NTT Toyota Delmas Tydren was dan ook natuurlik ‘n onbekende terrein vir die deelnemende spanne weens die feit dat vanjaar se tydrenkalender weens die Covid-19 pandemie en gepaardgaande regulasies geheel en al moes verander word.

Hierdie twee rondtes was dan natuurlik ook waar Tzaneen se plaaslike tydrennavigator Louis Menge saam met die Pretoriaanse tydrenjaer, Anton Raaths, hul streekstydrenkampioenskap voortgesit het.

Menge en Raaths wat met ‘n Volkswagen Golf in die NR1-klas jaag, het ‘n goeie tydren beleef en het twee klasoorwinnings behaal om sodoende hul greep op die NR1-klaskampioenskap te verstewig.

Menge het gesê hy en Raaths is vol vertoue dat hulle die klaskampioenskap in die laaste rondes van die kampioenskp, rondtes vyf en ses, sal kan beklink.

Afgesien van twee uitmuntende klasoorwinnings die afgelope naweek het dié span bestendig gery om ‘n puik derdeplek in Vrydag se rondte van die streekskampioenskap te neem. In Saterdag se rondte het hulle weereens stof opgeskop in hul teenstanders se oë en in die vierdeplek geëindig.

“Rondtes drie en vier was elk oor ses sneldele beslis. Elke tydrenrondte het oor drie sneldele beskik, waarvan elkeen twee keer voltooi moes word. Vrydag se rondte drie was die hitte ongelooflik en heel uitputtend vir die spanne. Dit is afgesien van die digte stofwolke waarmee ons ook rekening moes hou”, het Menge vertel.

“Die Saterdag se tydren, ronde vier, was ook baie warm. Ten minste was daar dié keer ‘n bietjie van ‘n wind wat gehelp het om ons bietjie koeler te hou, maar dit was nog steeds warm.”

Wat tydrenjaers en hul rigtingaanwysers (navigators) onderskei van baanrenjaers is dat hulle so vining as moontlik op ‘n onbekende roete die afstand van ‘n sneldeel moet voltooi. Baanrenjaers leer ‘n baan ken na ‘n paar oefenrondtes om te weet wat hul en hul renmotor se perke is. Tydrenspanne jaag byna blindelings op grondpaaie om te sien wie die vinnigste tyd opstel.

“Ek wil natuurlik ons diensspan ‘n pluimpie gee vir hul ongelooflike raak vat werk wat verseker gehelp het om ons kanse om die klaskampioenskap te wen te help verstewig. Ek wil aan ons borge, S&J Auto Tzaneen en Roma Fuels, ook bedank vir hul getroue ondersteuning.”

Die eindrondtes van die Suid-Afrikaanse nasionale tydren- en streekkampioenskap, rondtes vyf en ses, sal as die TRACN4 Nasionale Tydren bekend staan en sal op die 27ste en 28ste November in die Safcol plantasies in die omgewing van Belfast en Dullstroom beslis word.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here