Ruan Hanaczeck-Kruger van die Shamu Swemklub het sedert Maandag die 6de Julie weer fluks begin oefen. Foto: Roelof de Jonge

Swemmers afkomstig vanuit Limpopo oftewel wat gebore en getoë is in hierdie provinsie, maak steeds opgang op nasionale sowel as internasionale vlakke.

Twee van dié swemmers op die kollig gerig is, is Tzaneen se Ruan Hanaczeck-Kruger en Phalaborwa se Ryan Coetzee, wie onlangs deur die nasionale swembeheerliggaam, Swem Suid-Afrika (SSA), gekies is vir onderskeie nasionale spanne.

Ryan Coetzee.

Hanaczeck-Kruger is tans ‘n matrikulant by die Hoërskool Merensky en ‘n swemmer by die Shamu Swemklub waar hy deur die spesialis afrigter Johan Grobbelaar gebrei word.

Grobbelaar mag dalk as ‘n onverbiddelike afrigter voorkom, maar sy resep om swemmers na hoër verrigtingsvlakke te neem en sukses daarmee te bereik spreek boekdele. Shamu se swemmers was vanaf Maandag weer fluks aan die oefen na Swem Suid-Afrika (SSA) aan klubs die groenlig gegeë het om weer te kan begin oefen.

Hanaczeck-Kruger se ouers, Bossie en Heidi, was heel verras oor hul seun se insluiting in een van die SA-spanne.

Ruan Hanaczeck-Kruger is onlangs vir die SA Senior Jeugspan gekies.

“As gesin was ons heel uit die veld geslaan oor die nuus en het dit glad nie verwag nie. Ek het ‘n WhatsApp boodskap uit die bloute ontvang waarin ons geluk gewens word met Ruan se insluiting in die 2020 en 2021 Senior Jeugspan.”

Dié span is vir swemmers wat in 2002 en 2003 gebore is.

“Ons moes eers self eers die dokument onder oë kry om te sien waaroor dit gaan, veral in die lig dat die seisoen tot stilstand geruk is met die Covid-19 en inperkings wat dit mee gepaard gegaan het.”

“Ruan het gekwalifiseer vir die Olimpiese uitdunne en die SA Senior Nasionale kampioenskap wat weens die Covid-19 nie in April kon plaasvind nie. Hy het baie hierna uitgesien en het gehoop dat hy die jaar moontlik ‘n plek op die podium sou haal. Hy was in top vorm voor die kampioenskap begin het en het baie goed presteer op daardie tydstip.”

“Sy insluiting in die span beteken dat hy onder die top drie swemmers gerang is van die Senior Jeuggroep wat gebore is tussen 2002 en 2003. Die Senior Jeugspan gaan ondermeer aan verskeie oefen kampe deelneem. Hierdie swemmers gaan verder voorberei word met die fokus om swem talent vir die 2022 Statebond Spele en die 2024 Olimpiese spele te identifiseer”.

Hanaczeck-Kruger is sedert die grendeltydperk nog nie weer in die water gewees nie alhoewel hy elke dag aan die oefen was. Hy sê hy het gedurende die inperking geboks met ‘n slaansak wat gehelp het om veral sy skouerspiere te bou en in vorm te hou. Hy was verheug om weer tussen sy swemmaats te wees en weer in alle erns te kan begin swem. Hanaczeck-Kruger vertel hy was aangenaam verras en baie verheug om in die SA Senior Jeugspan ingesluit te wees.

“Met die wat die swemmers weer kan begin om te oefen sien ons almal baie uit om te sien of die program waaraan hy die laaste paar maande hard gewerk het vrugte gaan afwerp. Ons is baie dankbaar vir Ruan se algehele toegewydheid en harde werk maak dit soveel soeter vir ons as ouers. Harde werk word beloon!”

>