George de Roubaix met sy unieke Virus Klitser opvoedkundige speelding wat hy sy ontwerp het en nou vervaardig vir skole. Foto: Roelof de Jonge

So bel ‘n ene George de Roubaix van die klein Laeveldse dorpie Mica, ‘n klein spikkeltjie op die landskaart van Suid-Afrika, om te hoor hoe dit met sy vriend Louis Roux gaan, wie opsigself ‘n briljante joernalis was. Sy afsterwe sowat ‘n maand gelede was ‘n groot hartseer vir die Bulletin-span.

Bulletin het as ‘n huldeblyk in die afgelope paar weke na sy afsterwe rubrieke gepubliseer wat uit die wonderpen van Roux gevloei het. Soos ‘n skildery wat deur ‘n skildernaar geskep is. So was Roux se skrywery, kunswerke.

De Roubaix het in ‘n onlangse uitgawe, een van Roux se rubrieke opgemerk en gelees, en begin wonder waarom daar skielik van sy ou vriend werk weer gepubliseer word. Tydens die oproep aan Bulletin het de Roubaix meegedeel hoe hy en Roux as te ware vriende geword het.

Dis toe dat de Roubaix vertel van sy stokperdjie met houtwerk en die unieke speelgoed wat hy maak, sowel as houtmeubels.

Bulletin het Saterdagoggend na Mica gery waar De Roubaix trots met sy handewerk op die joernalis se opwagting gewag het. Na ‘n paar uur se kuier by ‘Oom George’ en sy gasvrye familie, was dit duidelik waarom Roux so ‘n hegte vriendskap met dié indrukwekkend speelgoedmaker gehad het.

Vriende sonder fieterjasies. De Roubaix is een van daai soort mense, sout van die aarde mense. ‘n Persoon wie omgee vir sy medemens.

Dis een van die redes waarom hy Bulletin geskakel het. Oom Georgewas gretig om Bulletin se lesers te vertel van sy nuutste speelgoed-item wat hy ontwerp het en self vervaardig.

Vanweë die inperkings wat met die Covid-19 pandemie gepaard gaan, moes talle huisgesinne allerhande soorte take aanpak om sodoende ‘n inkomste te help genereer om finansieël te oorleef.

De Roubaix het ‘n unieke opvoedkundige speelding geskep, naamlik ‘n Covid-19 Virus Klitser, wat verseker by ‘n aantal skole se opvoedkundige opleiding vir gr.R en gr.1 leerlinge sal baatvind.

“My belangstelling in houtwerk het gekom toe ek jare gelede ‘n liefde vir die voggies gehad het. My vrou, Sandy , is ‘n baie lieflike maar ook ‘n streng persoon. Sy het my altyd berispe oor my drinkery”, vertel de Roubaix.

“Daar het toe ‘n dag gekom waar sy my weer vasgevat oor die voggies, en ek net daar en dan besuit het om my hele maand se salaris aan haar gee. Ek het vir haar gesê sy moet dit vat en gebruik vir die huis, dan het ek nie meer geld om te kan drink nie.”

“Na ‘n paar dae het ek egter my flater agtergekom om vir vroulief al my geld te gee, want ek was so lus vir ‘n knertsie en kan nie terugdraai om my geld terug te vra nie. Dit was toe dat ek begin het met houtwerk om sodoende ‘n inkomste te genereer.”

Vandag maak De Roubaix allerhande items met sy vernuftige houtwerk, van houtkaste om enige iets onder die son te berg tot speelgoed vir kinders. En spog trots vanweë sy vrou en die houtwerk het die sy liefde vir die voggies agterweë gebly.

De Roubaix vertel afgesien dat die Virus Klitser prettige opvoeding aan leerlinge kan bied, kan dit in enige van Suid-Afrika se 11 tale of selfs internasionale tale vir skoliere gebruik word. Volgens de Roubaix is daar selfs belangstelling uit Frankryk vir die Virus Klitser opvoedkundige speelding.

>

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here