Dieselfde jongman wat twee weke terug deur Large Sekuriteit vasgevat is, is hierdie week uiteindelik inhegtenis geneem.

Large Sekuriteit in Tzaneen het die naweek wéér die jongman met die wit bakkie langs die R71 buite Tzaneen met vermeende gesteelde avokado’s betrap. Die polisie is wéér ontbied en die verdagte is hierdie keer inhegtenis geneem. Sy voertuig is vermoedelik gekonfiskeer.

Hierdie is dieselfde man wat twee weke terug deur Large Sekuriteit se wagte met gesteelde avokado’s en lemoene agter op sy voertuig se bak langs die heining by die Allesbeste Padstal betrap is.

Die verdagte staan langs die voertuig nadat polisie op die toneel opgedaag het.

Tydens daardie voorval is die sekuriteitswagte deur die straatsmouse wat oorkant Allesbeste handeldryf, aangeval. Die verdagte, die seun van een van hierdie straatsmouse, het tydens hierdie voorval probeer weghardloop. Die polisie het op die toneel aangekom en geweier om die man of die smouse te arresteer. Volgens hulle was daar nie genoeg bewyse dat die vrugte gesteel was nie – ten spyte van die plaasvoorman se getuie dat dit wel so was.

Die sekuriteitswagte het aan die polisie verduidelik dat die verdagte jong drywer van die bakkie al ‘n geruime tyd deur plaaslike sekuriteitsfirmas gesoek word. Hy word vermoedelik verbind aan ‘n reeks voorvalle van gesteelde avokado’s en sitrus uit die boorde van plase in die area. Die verdagte is die seun van een van die straatsmouse (sy ma) en die voertuig is na bewering in haar naam geregistreer.

Maandagoggend het Corrie Large, eienaar van large Sekuriteit aan Bulletin gesê dat die verdagte weer op vrye voet is na hy blykbaar ‘n R6 000 boete betaal het. Hy is weer in dieselfde voertuig in die dorp gewaar.

Volgens die Edrean Ernst, ‘n avokadoboer uit die area en direkteur by SAGA (South African Avocado Growers Association), vind diefstal in die boorde meestal aan die begin- en einde van die plukseisoen plaas aangesien daar baie beweging tydens die hoogtepunt van die plukseisoen in die boorde is en dit as afskrikmiddel dien. “Ons het al ons lede gemaan om hul sekuriteit op te skerp aangesien die diefstal op plase aan die toeneem is en plase met minder sigbare sekuriteit, geteiken word.”

Volgens die jongste beramings kos die diefstal van avokado’s die industrie in die omgewing van R24 miljoen jaarliks. Wat dit nog erger maak is dat die vrugte nie ryp is teen tye van die diefstal nie, en dat hierdie vrugte deur die misdadigers gepluk, gewas en verpak word voor dit op die varsproduktemark verkoop word.

Bulletin het in die verlede reeds ‘n paar keer berig dat motoriste nie langs die pad moet stop en vrugte koop nie aangesien meeste van die vrugte en veral die lemoene en avokao’s gesteelde produkte is. Die polisie blyk nie te veel bekommerd te wees oor hierdie diefstal wat die area reeds jare-lank teister nie, en fokus skynbaar eerder op die onwettige sigaret-handel wat die laaste twee maande begin kop uitsteek het.

Ons het navrae by die plaaslike- sowel as die provinsiale polisiewoordvoerders ingedien. Volgens provinsiale woordvoerder, Brig Matlafela Mojapelo, is die verdagte, Sydney Selowa (30) steeds in aanhouding in die selle in Tzaneen nadat sy saak Maandag in Tzaneen uitgestel is vir verdere ondersoek.

“Die polisie het die man op ‘n klagte van diefstal in hegtenis geneem nadat hulle ‘n oproep ontvang het oor gesteelde avokados. To polisielede op die toneel aangekom het, het hulle Selowa gevang waar hy besig was om avokados te steel en is hy dadelik inhegtenis geneem,” het Mojapelo bevestig.

Plaaslike woordvoerder, Sgt Maurice Mkhwshu, het verduidelik dat die voertuig in Selowa se tannie se naam geregistreer is, en aan haar terug besorg is. Dit ten spyte daarvan dat die voertuig vermoedelik in die uitvoer van ‘n misdaad betrokke was.

>