Wolkberg Akademie vir Christelike Volkseie Onderrig (CVO) het sedert sy ontstaan op 15de April 1997 van krag tot krag gegroei. Hierdie skool het hom bewys as ‘n skool van geleenthede en uitnemendheid op alle lewensterreine en leef die personeel en leerders voluit om die skool se leuse genaamd ‘Ter wille van ons kinders, voluit’, na te streef.

Op Donderdag die 3de September het die skool se leerders en personeel Bybels en Christelike leesstof van die Bybelgenoodskap van Suid-Afrika ontvang en dit is deur Hannes Steyn van die Kruispad- AGS gemeente oorhandig. Hierdie waardevolle skenking is deur twee van die skool se ouers, Herman en Julette Claassens, bewerkstellig.

Tydens hierdie geleentheid het die kollig ook geval op die skool se huidige hoof, Marietjie Naudé, wie eersdaags die leisels ophang en kollega, Ronel Steyn, wie die pos na die September skoolvakansie gaan oorneem.

Naudé is sedert 2011 verbonde aan Wolkberg Akademie CVO skool waar sy as onderwyser begin het. Sy vertel dat sy aanvanklik net vir ‘n kwartaal by dié skool sou klas gee en het aanvanklik ‘n ander personeellid afgelos.

Haar tydelike pos het toe permanent geword en in 2014 het Naudé die pos as skoolhoof van Wolkberg Akademie CVO aanvaar wat sy tot vanjaar beklee het.

“Na 44 jaar in die onderwysberoep is dit nie net moontlik om af te tree sonder om steeds ‘n hunkering vir die onderwysberoep te hê nie. Daarom gaan ek wel as hoof uittree, maar ek gaan steeds twee dae ‘n week Bybelklasse vir gr.4 tot gr.7 klasse aanbied.”

“Wat vir my besonders is van Wolkberg Akademie, nie net in die tyd wat ek as hoof gedien het nie, maar in geheel is hoe positief hierdie skool gegroei het. Waar hierdie skool met 6 leerlinge begin het by die AP Kerk, spog Wolkberg Akademie vandag met 151 kinders. Met geloof, nederigheid en deursettingsvermoë het ons gegroei tot waar ons vandag is.”

“Waar ons aanvanklik net een klas per graad gehad het, het die skool so gegroei waar ons nou twee klasse per graad het. Hierdie teken van groei is vir my persoonlik ‘n teken van seën en genade uit die Hand van ons Hemelse Vader.”

Steyn vertel sy is heel opgewonde en sien uit na die uitdaging om die leisels as hoof by Naudé oor te neem. Sy het haar onderwysloopbaan in 1989 begin en het by verskeie plaaslike skole, ondermeer Laerskool Tzaneen en die SAVF Tzaneen Kleuterskool, skool gegee.
Voor haar aanstelling as ‘n gr.2 grondslag-onderwyser in 2017 by Wolkberg Akademie, het Steyn haar vir sowat 20 maande in die begrafnis onderneming bedryf bekwaam.

“Ek het gou besef hierdie loopbaan is nie vir my nie en ek het terug verlang na die onderwysberoep. In 2017 het ek ‘n pos by Wolkberg Akademie CVO gekry. Ek is tans die huidige adjunkhoof. Ek moes soos almal vir die pos as hoof aansoek doen.”

“Dit is die eerste keer wat ek die pos as ‘n hoof van ‘n skool gaan beklee, maar ek sien regtig uit daarna. Ek is egter vol vertroue vir die toekoms en met ‘n puik span onderwysers en ouer Opvoedingsraad wat agter my staan, weet ek dat hierdie skool net van krag tot krag sal groei.”

“Vir my is die omstandighede van ‘n klein skool perfek en dit sal my werk as hoof vergemaklik om take suksesvol te verrig. My siening, veral in die geval van die Covid-19 pandemie, glo ek steeds kinders hoort nie by die huis nie, maar eerder in die skool. Kinders moet onderrig ontvang.”
Steyn het gesê haar visie as hoof van Wolkberg Akademie CVO is om hierdie skool verder te laat groei, maar binne perke sonder dat die skool uit sy nate sal bars.

“Daar is nog allerlei toekomsplanne wat vir die skool beplan word. Die Covid-19 gesondheidsregulasies het heelwat van ons inkomste geneem. Met tyd, geduld en geloof sal ons wel hierdie toekomsplanne ‘n werklikheid maak. Ek wil ook poog om die gemeenskap en veral sake-ondernemings meer by die skool betrokke te kry.”

“Dan wil ek graag vir ons hoof, Marietjie Naudé, baie dankie sê vir al die moeite en opofferings wat sy gemaak het wat tot die sukses van Wolkberg Akademie CVO bygedra het. Ek wil namens die skool se leerders, personeel en die ouer Opvoedingsraad vir haar ‘n rustige, geseënde en heerlike aftrede toewens. Geniet dit voluit!”, het Steyn gesê.

>