Oom Nicholas Bredenkamp het met 'n skok gemerk dat die besonderhede op sy nuwe tydlike rybewys, nie syne is nie, maar 'n ander man beskryf.

Tannie Joey (54) en Oom Nicholas Bredenkamp (61) sit met ‘n probleem. Na vyf maande se sukkel om die oom se rybewys te hernu, het die egpaartjie uiteindelik hierdie week ‘n tydelike rybewys ontvang, maar oom Nicholas Bredenkamp is nou oom EM Badenhorst, ‘n jaar jonger met ‘n splinternuwe id nommer. “Nou sit ons met ‘n gemors spul.”

“Ek werk op ATKV Eiland en ek kry net een dag per week kans om in te gaan dorp toe om ons dinge af te handel. Die oom is op medies-ongeskikte pensioen, so hy kan nie werk nie en ek moet saam met hom gaan om lisensies en die klas van dinge uit te sorteer. Ons moes toe wag tot die volgende week, in September, voor ons wéér terug is toetsstasie toe,” vertel tannie Joey.

Hierdie is oom Nicholas Bredenkamp (61) se oorspronklike rybewys wat hy wou hernu by die Tzaneen toetsstasie. Hier word sy besonderhede duidelik vertoon.

Wéér is die paartjie weggewys as gevolg van die stelsel wat nie aanlyn was nie. Die volgende week gaan hulle terug en staan tervergeefs en wag net om weereens ingelig te word dat hul nie die rybewys daai dag sou kon hernu nie. In Oktober, is die twee ‘n laaste keer weggewys by Tzaneen toetsstasie en aangeraai om Nkowankowa toetsstasie te probeer.

“Toe ons by Nkowankowa toetsstasie stop sê die vrou vir ons dat hulle ons nie kan help nie want hulle kantoor se dak het afgewaai. So toe gaan ons maar weer terug Tzaneen toe en hulle was steeds van lyn af. Ons probeer toe Modjadjiskloof toetsstasie. Daar aangekom vertel ‘n man my dat hulle ons nie kan help nie want die vrou wat die papiere het, is by die huis. Dit was teen die tyd nou al 11:00 die oggend.”

Oppad uit loop die egpaar ‘n werknemer raak wat hulle aanraai om Phalaborwa toetsstasie te probeer.
“Ek en my man het net nie kans gesien om al die pad Phalaborwa toe te ry net om daar te gaan vas sit nie. So die volgende week is ons toe weer Tzaneen toe. Ons het 06:30 die oggend reeds daar gaan sit in die ry, in die bloedige warm son en wag. Nogal gedink as ons vroeg daar is sal ons die lang toue mis, maar nee wat, daar sit ons toe en wag in die son tot 14:30 daai middag toe.”

Volgens tannie Joey het Andre Liversage hulle te hulp gesnel en hulle na een van die kassiere verwys. Die vrou het oom Nicholas se details ingetik en sy ou bestuurlisensie gevat. Oomblikke later is oom Nicholas se tydelike rybewys aan hom uitgereik en die paartjie is verlig terug huistoe.

“By die huis kom ons toe agter dat die naam en id nommer op die tydlike rybewys nie my man se besonderhede is nie, maar sy foto is wel daarby! En nou wat maak ons nou?”

Bulletin het met Andre Liversage, hoof van die toetsstasie op Tzaneen gepraat. Volgens hom gebeur dit soms dat daar foute insluip in die sisteem, en hy sou ondersoek instel. Intussen het hy aangebied om persoonlik tannie Joey en oom Nicholas se probleem op te los by die toetstasie. Hy het ook sy persoonlike selfoonnommer aan die paartjie gegee en die probleem behoort nog in hierdie week uitgeklaar te word.

Ons sal terugvoering gee sodra die saak opgelos is.

>